Des van Jaarsveldt kan nie verkwalik word as hy sê sy loopbaan as Springbok was “omstrede” nie. Van Jaarsveldt, wat in sy speeldae bekend gestaan het as die “Kaalkop Arend”, is vandag op 91-jarige ouderdom die oudste lewende Springbok. Maar hy is ook die Springbok-kaptein wat ná sy aanstelling om die Bokke teen Skotland te lei deur die koerante “uitgehaal” is omdat hy ’n speler van buite Suid-Afrika se landsgrense is – ’n destydse Rhodesiër. Wat van Jaarsveldt se storie “Des” te merkwaardiger maak, is dat hy slegs een toets gespeel het. In daardie enkele toets, teen Skotland in Port Elizabeth op 30 April 1960, was hy egter nie net die Bok-kaptein nie, hy het ook ’n indrukwekkende drie gedruk en Suid-Afrika tot ’n oorwinning van 18-10 gelei. Op 31-jarige ouderdom. Net om daarna die trekpas te kry. “Daar was heelwat kritiek oor my aanstelling as Bok-kaptein,” onthou die rateltaai flank, wat, sy 91 somers ten spyt, oor ’n kristalhelder geheue beskik. “Een koerantopskrif het dit as ’n ‘kwade dag’ bestempel dat Suid-Afrika iemand van buite die landsgrense moes vind om die span te lei. “Dit was ’n eienaardige week wat die toets voorafgegaan het. “Ons het die vorige Saterdag proewe gespeel, ook in die Baai, en groot was my verbasing toe ek in die Bok-span ingesluit is, en dit boonop as kaptein. “Een oggend met ontbyt het ek vir dr. Danie Craven, toe president van die SA Rugbyraad, raakgeloop, en vir hom gevra wie ons sou afrig. ‘O, ek het vergeet om jou te sê, jy moet die afrigting van die span ook behartig ’, was sy antwoord. “Gegewe die min tyd tot my beskikking, en in ag genome dat ek die spelers nie goed geken het nie, was dit ’n haas onbegonne taak. “Daar was egter nog ’n verrassing. Die Vrydagaand voor die toets was daar ’n amptelike onthaal en, aan die hooftafel, het Dok Craven na my toe gedraai en my ewe saaklik meegedeel: ‘Jy is die hoofspreker vanaand . . .’ “In elk geval, die groot dag het aangebreek en in die kleedkamer het ek afgewyk van die tradisionele gebruik van spangebed, aangesien dit teen my grein ingegaan het om te bid vir ’n oorwinning. Pleks van ’n lang, emosionele spanpraatjie, het ek eenvoudig vir die manne gesê: ‘Kom ons gaan uit en geniet onsself.’ “Daardie alternatiewe benadering het, in sekere kringe, nie goed afgegaan nie.” Die toets self het nietemin goed afgeloop, met Van Jaarsveldt se verstommende langafstanddrie een van die hoogtepunte. “Ek het skielik, op die middellyn, die bal in die hande gekry, en eenvoudig gehol dat dit bars,” onthou hy van sy drie langs die pale. “Dit het duidelik egter nie veel van ’n indruk gelaat nie, aangesien ek en tien van my spanmaats nie weer die span gehaal het vir die daaropvolgende toets teen Nieu-Seeland nie.” Sestig jaar later woon Van Jaarsveldt deesdae in die Rolling Hills-aftreeoord in Umhlanga Rocks. “Ek het nie las van enige noemenswaardige kwale nie,” sê hy. “Hoewel ek dinge effens rustiger neem, sien ek nog uit na elke nuwe dag en leef ek voluit. “Ek is mal oor tuinmaak en het 70 rose waarna ek omsien. Dit hou my aan die gang. “Ek kan nie meer so gereeld stap sedert ek twee knieoperasies ondergaan het nie. Ek doen wel daagliks nog 200 halwe hurksitte. “Ek het ’n kierie, maar vergeet telkens om dit te gebruik.” Oor die feit dat hy tans die oudste lewende Springbok is, sê van Jaarsveldt bloot: “Behalwe dat dit ’n eer is, maak dit geen verskil aan my nie. Meeste van my ou spanmaats is nie meer met ons nie, en dit is hartseer.” Hy is al 26 jaar getroud met Kathleen, en hulle het saam nie minder nie as agt kinders en ’n dosyn kleinkinders. Desmond Charles van Jaarsveldt is op 31 Maart 1929 in Bulawayo gebore, en het aan Plumtree High School skoolgegaan. “Rhodesië was ’n paradys in die ou dae,” onthou die oudleerling van die beroemde Plumtree High in Bulawayo, waar hy in atletiek, en vernaam die naellope, uitgeblink het en as sy skool se victor ludorum aangewys was. Hy het selfs vir Rhodesië as ’n swaargewigbokser verteenwoordig by die SA Kampioenskap in 1950. Skaars ’n paar maande nadat hy die skoolbanke verlaat het, het van Jaarsveldt in 1947, op 18-jarige ouderdom, sy senior debuut vir Rhodesië met ’n drie teen WP op Nuweland gevier. Twee jaar later het van Jaarsveldt, as gevolg van ’n besering wat hy in ’n klubwedstryd opgedoen het, Rhodesië se onvergeetlike oorwinning van 10-8 oor die All Blacks in 1949 misgeloop. “Daai wedstryd sal vir altyd onthou word vir die wyse waarop Ryk van Schoor, wat op ’n plaas in Rhodesië gewerk het, die All Blacks se middelveld stukkend geduik het. “Op die Kiwi’s se treinreis van Bulawayo na Salisbury het hul een senter, Graham Delamore, die aand blykbaar uit sy slaapbank geval, waarop een van sy spanmaats gespot het: ‘Crikey, mate, Ryk van Schoor was here!’” Van Jaarsveldt het van 1947 tot 1962 vir Rhodesië in 62 wedstryde, waarvan 19 as kaptein, met onderskeiding verteenwoordig, en het ’n MBE ontvang as deel van koningin Elizabeth II se Nuwejaars-ererol in 1963. “MBE staan natuurlik vir ‘My (own) Bloody Efforts’,” skerts hy. Sy diens aan Rhodesië het nie daar opgehou nie, en van 1967 tot 1970 het hy die nasionale span afgerig, terwyl hy ook president van die Rhodesië-rugby-unie was in 1979. “Toe ek die leisels as afrigter neergelê het in 1970, het die amptenare gevra wie ek sou aanbeveel as my opvolger,” onthou hy. “Ek vertel hulle toe van hierdie jong, entoesiastiese klubafrigter van Bulawayo by name van Ian McIntosh. “Nou ja, die res is geskiedenis.”